Landbou
Is Eskom-beurtkrag sabotasie?
Deur SANDRA HARDING

Eskom se beurtkrag veroorsaak grootskaalse ontwrigting in die landbou, sê mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU SA Noord.

Hy sê dat goeie diens, billike tariewe en vriendelike amptenare baie boere in die verlede oorreed het om hul boerderye meer en meer afhanklik van elektrisiteit te maak. Die grootskaalse verswakking van dienslewering, onbillike tariefverhogings, en gereelde onbeplande kragonderbrekings wat nou aan die orde van die dag is, bring mee dat lede aan alternatiewe opsies aandag moet gee.

In 'n brief wat aan die Polokwane-kantoor van Eskom gestuur is, word verduidelik dat landboubesighede uiters afhanklik is van die konstante verskaffing van elektrisiteit. Die brief stel dit duidelik dat op die heel minste moet sulke besighede vooraf weet wanneer daar beplande kragonderbrekings sal plaasvind sodat die skade tot die minimum beperk kan word. Skade aan elektriese motors, produksieverliese as gevolg van waterpompe wat nie kan funksioneer nie, skade aan produkte wat in koelkamers gehou moet word, besproeiingstoerusting wat nie kan funksioneer nie en ander verliese kan so voorkom word.

Joubert sê dit is bemoedigend dat Eskom baie vinnig op die brief gereageer het. Hy het gesê dat die TLU SA Noord dankbaar is dat Eskom wel probeer om boere tegemoet te kom.

Joubert sê Eskom is egter besig met wat lyk soos ekonomiese sabotasie. Eerstens deur die voortdurende kragonderbrekings maar ook deur die buitensporige verhoging in kragtariewe wat deur swak bestuursvermoë direk deur die verbruiker gedra moet word. Die effek van Eskom in die groei van die Suid Afrikaanse ekonomie sal in 2008 beduidend negatief wees.

Joubert het voorgestel dat die skedule wat op die Eskom webwerf nougeset nagevolg behoort te word en dat afwykings tot grootskaalse eise teen Eskom kan lei.

Hy sê dit is nou meer as ooit tevore noodsaaklik dat lede moet ondersoek instel na alternatiewe elektrisiteits- en ander energie-verskaffing. Die afgelope paar jaar het bewys dat die Regering en regeringsinstansies nie meer in staat is om die infrastruktuur wat deur baie jare opgebou is, in stand te hou nie. Daar word ook nie voldoende beplan vir grootskaalse verhogings in verbruik nie.

Joubert het lede aangemoedig om te streef na selfvoorsiening in terme van die bedryf van landbou-ondernemings. Hy het gesê die kanse is nie baie goed dat die situasie gaan verbeter nie. Hy sê lede wat wil bly boer sal dringend na alternatiewe moet kyk. Daar word ook gehoop dat die goeie verhouding wat nou met Eskom opgebou word, kan bydrae om verliese te beperk deur inligting vinnig te versprei.

14 Januarie 2008