Landbou
Nog g'n woord oor mielies
Deur JEAN-MARIE DE WAAL

Die Departement van Minerale en Energie het nog nie sy siening oor die uitsluiting van mielies as 'n gewas vir biobrandstof verander nie ten spyte van groot pogings deur bedryfspelers om die deur vir die gewas oop te druk.

Mnr. Sputnik Ratau, woordvoerder vir me. Buyelwa Sonjica, Minister van Minerale en Energie, sê hulle wag op me. Lulu Xingwana, landbouminister, se terugvoer ná haar vergadering met 'n bekommerde biobrandstofbedryf in Desember.

Dit het gevolg nadat dit aan die lig gekom het dat mielies nie oor die volgende vyf jaar in die Suid-Afrikaanse biobrandstofbeleid ingesluit gaan word nie. Na heftige openbare reaksie is 'n "finale" dokument weer vir openbare raadpleging beskikbaar gestel.

Bedryfsleiers, soos Graan SA, wag nou om 'n afspraak met Sonjica te kry. Landbouweekblad, 18 Januarie 2008