Landbou
Politieke skadu oor landbou
Deur JEAN-MARIE DE WAAL

Groot kommer heers in die landbou oor die politieke onsekerheid wat nou in Suid-Afrika sigbaar is. Dit gaan die landbou en algemene sakevertroue waarskynlik benadeel. Die land is beslis in groter politieke onsekerheid gedompel met die verkiesing van 'n nuwe ANC-leierskap by Polokwane.

"Ons is bekommerd oor die politieke neigings wat nou in Suid-Afrika na vore begin kom. Uiteraard sal bepaal moet word of daar beleidsveranderinge en ander benaderings tot die landbou en grondhervorming gaan wees, sê dr. John Purchase, hoofbestuurder van die Landboubesigheidskamer (LBK).

In die jongste verslag van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid word daarop gewys dat die algemene sakevertoue het in Desember verlede jaar skerp gedaal het. Dit is nou die laagste wat sedert 2003 aangeteken is.

Mnr. J.P. Landman, politiek- en toekomsontleder, verwag nie dat die landbou verder in die ekonomie afgeskuif sal word nie, maar die groot klem op grondhervorming sal beslis 'n uitwerking hê. "Die landbou sal sterk bevorder word, maar die vraag is presies watter soort landbou aangesien die klem op kleinboer-ontwikkeling val."

Landbouweekblad, 18 Januarie 2008