Landbou
Duur koring 'oor landbou agteruit boer'


"Die stelselmatige agteruitgang in die winsgewendheid van landbou in die algemeen en meer spesifiek die van koringproduksie, is die hoofrede vir die relatief groot styging in die koringprys wat die afgelope tyd ervaar word," sê mnr Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA.

In 'n nuusverklaring sê Ferreira: "Boerdery is 'n besigheid en soos by enige ander onderneming is die hoofdoel om wins te maak en as daar nie wins gemaak word nie kan daar nie volhoubaar oor die langtermyn geproduseer word nie."

Sedert deregulering in 1997 het die plaaslike prys van koring, nie net in reële terme (nadat inflasie uitgehaal is nie) maar ook in sekere jare in nominale terme, gedaal. Dit het tesame met aanhoudende stygings in insetkoste, marges onder druk geplaas en het 'n groot aantal plaaslike produsente eenvoudig hul koringproduksie, of afgeskaal of heeltemal gestaak.

In 1997 het plaaslike produsente 1,294 miljoen ha koring geplant terwyl die afgelope seisoen slegs 632 000 ha aangeplant is. Dit verteenwoordig 'n afname van 51 persent. Dit het meegebring dat die plaaslike oes vanaf 2,5 miljoen ton tot 1,77 miljoen ton gedaal het. Die resultaat hiervan was dat invoere, om aan die plaaslike vraag te voldoen, vanaf ongeveer 400 000 ton tot 1,3 miljoen ton gestyg het. Omdat invoere in die verlede relatief maklik en teen lae gesubsidieerde internasionale pryse kon plaasvind was prysstygings in die internasionale mark tot nou toe nie 'n probleem nie.

Graan SA se waarskuwings dat die Regering se onwilligheid om plaaslike produsente deur middel van 'n doelmatige tariefbedeling te beskerm Suid-Afrika te afhanklik van invoere maak, het op dowe ore geval en is die impak van drastiese prysstyging in internasionale markte op plaaslike verbruikers tans baie erger as wat dit in die geval van 'n gesonde plaaslike koringbedryf sou gewees het.

Ferreira waarsku dat dit nie sonder meer aanvaar moet word dat die huidige hoër koringprys produksie tot 'n groter mate gaan stimuleer nie. Insetkoste het oor die afgelope jaar teen dieselfde tempo en in sekere gevalle selfs vinniger as die koringprys gestyg.

Die hoofrede hiervoor is dat die pryse van insette grootliks vanaf die internasionale pryse van insette, wat dramaties gestyg het, afgelei word. So het byvoorbeeld, volgens die Misstofvereniging van Suid-Afrika (MVSA), die wêreldprys van ureum (stikstof) die afgelope 12 maande met 46 persent gestyg, die van di-ammoniumfosfaat met 230 persent en die van swael met 700 persent. Die MVSA waarsku ook dat verdere prysstygings in die nabye toekoms onafwendbaar blyk te wees. Geadministreerde pryse soos die van diesel, elektrisiteit asook die hoër rentekoers speel ook 'n groot rol in die verhoogde produksiekoste van koring.

17 Januarie 2008