'n Radikale nuwe rigting met grond is nié op die nuwe ANC-leierskap se sakelys nie, sê bronne binne die ANC. Dit kom te midde van vrese dat die nuwe groeperings binne die ANC sal afstand doen met die benadering tot grond en agrariese hervorming wat onder die leierskap van Thabo Mbeki geskied het.
Op 'n onlangse vergadering van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) is die fyner besonderhede van die resolusies wat tydens die ANC-kongres op Polokwane aanvaar is, bespreek.
Ekonomiese beleidsveranderinge is einde verlede jaar deur die ANC se ekonomiese transformasie groepering (ETC) bespreek. Die finale resolusies behels die hersiening van wit boere se apartheidskuld wat by die Land Bank aangegaan is en ná 1994 oorgedra is, grondbelasting vir onbenutte grond, kleinskaalse eienaarskap, en die insluiting van die landbou in die nywerheidsbeleid. Dit word verwag dat die afgelope vergadering van die NUK meer besonderhede oor die resolusies sal bring.
In sy toespraak op die herdenking van die ANC se 96ste bestaansjaar het mnr. Jacob Zuma, president van die ANC, verwys na die resolusie van die Polokwane-kongres om afstand te doen met die beginsel van gewillige koper gewillige verkoper as 'n maatstaf om grondhervorming te versnel. Hy het ook genoem dat die bestuur en beheer van staatsgrond onder een departement behoort te val.
Landbouweekblad, 25 Januarie 2008