Terugkeer na regulering, wat die mededingendheid uit die mark haal, sal 'n enorme fout wees. Die kartelvorming ten opsigte van die broodprys waarby die koringmaalbedryf betrokke was, is nie 'n gevolg van die vrye mark nie, sê mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA.
Hy het gereageer na versoeke deur vakbonde en politici dat die broodprys gereguleer moet word in lig van die styging in die prys van brood met sowat 40 c verlede week. Die styging in die broodprys is bekend gemaak deur Tiger Brands, een van die partye in die onlangse pryssamespanning.
Mnr. Tony Ehrenreich, provinsiale sekretaris-generaal van die vakverbond Cosatu, meen die styging is 'n manier om die boete van R99 miljoen wat die Mededingingskommissie opgelê het, aan die verbruiker oor te dra. Hy glo dit is 'n logiese gevolgtrekking. Hy het aan Landbouweekblad gesê sy organisasie het 'n beroep op die Regering gedoen om weer regulering van die graanmarkte in te stel, die rol van invoerpariteit in prysbepaling te hersien en die strafregtelike vervolging van die ondernemings wat hulle aan samespanning skuldig gemaak het.
Uit Landbouweekblad, 25 Januarie 2008