Landbou
Eskom 'ondermyn ekonomie'
ISABEL STOLTZ

Ondersoek word ingestel na die moontlikheid van regsaksies teen Eskom vir verliese veral weens die instelling van ongeskeduleerde "beurtkrag".

"Eskom moet sy skedules 60 dae vooruit beplan en dan daarby hou. Daar kan in dié stadium hoegenaamd nie peil getrek word op die kragvoorsiener se webwerfinligting vir beplanningsdoeleindes nie," het me. Marie Helm, hoofbestuurder van die TLU SA Noord, gesê.

Eskom se lukraak hantering van kragvoorsiening is besig om die Suid-Afrikaanse ekonomie dramaties te ondermyn en dit is nou nodig dat die instansie oop kaarte speel met Suid-Afrikaners oor sy kragvoorsiening aan buurlande en in watter mate optimale funksionering deur regstellende aksie geraak word. Dit is albei faktore waaraan iets gedoen kan word, sê sy.

Boere maak op groot skaal gebruik van elektrisiteit en produktiwiteit op plase kom tot stilstand weens die kragonderbrekings. Skade aan elektriese motors, pompe, produkte wat in koelkamers gehou word en produksieverliese in die algemeen kan beperk word met die nodige beplanning.

Helm sê met jaarlikse geraamde verliese van sowat R3,5 miljard weens misdaad, kan die land net nie die bykomende las van massiewe kragonderbrekings verreken nie en sy voorsien dat die ekonomie kan ineenstort.

Die TLU SA stel nou ondersoek in na alternatiewe energiebronne en moedig sy lede aan om so ver moontlik selfvoorsienend te raak in die bedryf van landbou-ondernemings.

Landbouweekblad, 25 Januarie 2008