Landbou
Graan SA voluit vir biobrandstof
NICO VAN BURICK

Graan SA beywer hom voluit om mielies as grondstof ingesluit te kry in die Regering se biobrandstofstrategie, sê mnr. Wessel Lemmer, senior ekonoom van Graan SA. Volgens hom is sy organisasie geensins ontmoedig deur 'n verklaring dat daar geen verbintenis van die Regering is om mielies te heroorweeg nie.

Lemmer sê hy is bewus dat daar nie só 'n onderneming is nie. Lemmer, wat in Desember 'n vergadering met me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, bygewoon het, sê sy het bloot onderneem om 'n ontmoeting met die Minister van Minerale en Energie te reël met die oog op die moontlike heropening van die gesprek oor mielies.

Xingwana het verlede week ná berigte dat die Regering bereid is om die besluit oor die uitsluiting van mielies te heroorweeg, in 'n verklaring dit duidelik gestel dat daar geen nuwe besluit is nie. Sy sê in 'n verklaring in geen stadium het sy die Regering verbind tot die heroorweging van die besluit nie.

Lemmer sê Graan SA sal voluit wedywer om mielies heroorweeg te kry.

Landbouweekblad, 25 Januarie 2008