Klagtes oor amptenare van Sasko (deel van die Pioneer Foods-groep) wat steeds die broodprys in Mpumalanga en die Wes-Kaap met kleiner handelaars onderhandel, stroom na die mededingingsowerhede.
"Ons is teleurgesteld in die houding van Pioneer se bestuur," het mnr. Thulani Kunene, wetstoepassingshoof by die Mededingingskommissie gesê.
Op aandrang van Pioneer het die kommissie 'n lys met die name van Pioneer se personeel bekend gemaak wat volgens getuies by die kartel betrokke was. Die lys bevat ook die datums waarop hierdie personeel met Tiger en Premier ontmoet het om pryse te bespreek. Hierdie praktyke vind glo steeds in gebiede plaas waar Sasko 'n oorheersende posisie het.
Mnr. André Hanekom, besturende direkteur van Pioneer, stem nie saam met Kunene nie. "Ons dra geen kennis van enige werknemers van Pioneer Foods wat pryse met kleiner verspreiders en/of mededingers bespreek nie."
Hanekom sê "Pioneer beskou dit as 'n ernstige saak en wil verbruikers verseker dat die aangeleentheid die volle aandag van die direksie geniet." Die direksie het 'n komitee aangestel om met die hulp van onafhanklike konsultante alle tersaaklike aangeleenthede te ondersoek.
Uit Landbouweekblad, 25 Januarie 2008