Die man wat die taak opgelê is om sake by die sukkelende Land Bank reg te ruk, is nou self in warm water met onder meer verskeie bewerings van seksuele teistering teen hom.
Dr. Phil Mohlahlane, waarnemende uitvoerende hoof van die Land Bank, het egter aan Landbouweekblad gesê dié bewerings en ander waarin hy van korrupsie beskuldig word, is bloot 'n komplot teen hom.
Hy is nie bewus van enige klagtes wat by die polisie óf die bank aanhangig gemaak is nie. Landbouweekblad het name van klaagsters, maar hul bewerings kon nie sonder redelike twyfel bevestig word nie.
Na bewering het Mohlahlane talle junior amptenare seksueel geteister sedert sy aanstelling in Augustus verlede jaar. Volgens 'n bron in die bank is "slagoffers" óf afgedank óf bevorder. Verder word genoem dat me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, wat bekend is as 'n kampvegter vir vroueregte en juis om dié rede in haar portefeulje aangestel is, geweet het van die bewerings, maar versuim het om dit te hanteer.
Uit Landbouweekblad, 25 Januarie 2008