Boere meen die bedrywighede van sogenaamde agente wat in Limpopo hul dienste beskikbaar stel as "tussengangers" tussen boere en die Grondeisekommissie, moet ondersoek word.
'n "Agent" wat al geruime tyd betrokke is by sulke transaksies, het al etlike miljoen rand aan "kommissie" in die sak gesteek. Verskeie boere wat by Levubu-grondeise betrokke was, het van haar dienste gebruik gemaak.
Volgens mnr. Stephan Hoffman was die vrou vroeër 'n amptenaar van die Departement van Grondsake.
Sy het vroeg in 2001 betrokke geraak by grondeise op Levubu en het glo beweer sy kan goeie pryse vir boere se grond beding en transaksies bespoedig. Sy was ook betrokke by grondeise op Soekmekaar.
Die vrou wat nie 'n geregistreerde eiendomsagent was nie het kontrakte met boere gesluit ingevolge waarvan 7 % van die koopprys in kommissie aan haar betaal moes word sodra die staat hulle vir hul grond betaal het.
Mnr. Mashile Mokono, grondeisekommissaris in Limpopo teen wie nou 'n saak van bedrog ondersoek word, het sowat 'n jaar gelede die vrou se aansprake ontken en gesê grondeise moet 'n bepaalde proses deurloop wat deur niemand beïnvloed kan word nie.
Die TLU SA Noord het die Grondeisekommissie skriftelik versoek om met dié boere te vergader om die saak by te lê, asook antwoorde te verskaf oor die redes waarom verskeie grondeise so sloer.
Uit Landbouweekblad, 25 Januarie 2008