Landbou
Beurtkrag gaan boere looi
Deur CHRIS JOOSTE

Die huidige kragonderbrekings van Eskom hou ernstige ongunstige ekonomiese implikasies vir die landbou in. Dit is vir besproeiingsboere veral in die somer nie maklik om boerdery aktiwiteite so aan te pas om by kragonderbrekings in te skakel nie, sê mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap.

Enige onderbrekings het tot gevolg dat die skedulering van besproeiing agter raak met die gevolglike negatiewe finansiële implikasies. Dit is ook onmoontlik vir koelkamers wat vrugte hanteer en wynkelders om doeltreffend te funksioneer as kragonderbrekings ondervind word. Op baie plase self is verkoelingsgeriewe wat van elektrisiteit afhanklik is.

"Die feit dat vir die volgende vyf na sewe jaar nie lig in die tonnel gaan wees nie, wek kommer. Inteendeel, dit wil voorkom asof kragonderbrekings sal eskaleer en 'n daaglikse leefwyse gaan word."

Agri Noord-Kaap het in 2007 boere se kwesbaarheid - veral van November tot Januarie - aan Eskom verduidelik. Groot geldelike verliese kan gely word as mielies nie betyds geplant en besproei kan word nie en die handhawing van die koue ketting vir die verpakking en veral vir die uitvoer van druiwe is kritieke belang. Produsente moet vooraf gewaarsku word wanneer beplande kragonderbrekings gaan plaasvind.

Na aanleiding van die onlangse toepassing van kragonderbrekings in die landbougebiede van die Noord-Kaap, is dit duidelik dat weer dringend met Eskom gepraat moet word.

17 Januarie 2008