Die onaanvaarbare situasie met betrekking tot kragvoorsiening in Suid-Afrika gaan net erger raak, sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA se ekonomiese sakekomitee. Die onaanvaarbare situasie met betrekking tot kragvoorsiening in Suid-Afrika gaan net erger raak, sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA se ekonomiese sakekomitee.
"Wat meer verontrustend is, is die feit dat die Regering en Eskom nie oop kaarte met die publiek speel nie. Alle aanduidings is dat die Regering lank terug reeds daarop gewys was dat Suid-Afrika 'n energie-tekort in die oë staar, maar dat daar niks aan gedoen is nie.
"Benewens dit, voorspel Eskom al hoe langer periodes wat beurtkrag verbruikers se voorland gaan wees. Teen die einde van 2007 was vyf jaar in die vooruitsig gestel en binne 'n paar maande het die tydperk agt jaar geword. Dit is ooglopend dat die gevolge van hierdie ontwrigting nie na behore deur die owerheid en diensverskaffers bereken was nie. Wat sake meer verontrustend maak is die feit dat nie die Regering of Eskom aanspreeklikheid aanvaar vir die persoonlike en finansiële verliese wat voortspruit uit die onaanvaarbare toedrag van sake nie.
Die voorsitter van die TLU SA, mnr. Paul van der Walt, sê die ekonomiese gevolge van beurtkrag en onderbrekings is van só 'n aard is dat produktiwiteit, winsgewendheid, sekuriteit, veiligheid en stabiliteit van die totale ekonomiese sektor bedreig word.
Die gevolge op die landbou, wat grootliks afhanklik is van biologiese prosesse wat nie gemanipuleer kan word nie, is ingrypend. Indien beurtkrag skedulerings nie betyds en akkuraat aan boere gekommunikeer word nie, bestaan daar 'n wesentlike risiko dat 'n totale oes van 'n bepaalde produk verloor kan word.
In 'n brief aan die Minister van Energiesake en Eskom, eis die TLU SA dat die aangeleentheid dringend bespreek moet word en dat die Regering en Eskom op deursigtige wyse stappe neem om die situasie reg te stel.
17 Januarie 2008