Landbou
Agri SA, ANC-leiers byeen?


Agri SA het begin met reëlings om met die nuutverkose ANC-leiers in gesprek te tree om duidelikheid oor sekere beginsels en praktyke te verkry, sê mnr. Lourie Bosman, voorsitter van die Agri SA.

Luidens die organisasie se nuusbrief, sê Bosman: "Mnr. Jacob Zuma het by die Polokwane beleidskonferensie van die ANC, grondhervormining as een van die prioriteite van die nuwe ANC-leierskap uitgelig, met 'n paar rigtingwysers oor wat hy beoog om die pas daarvan te versnel.

"Dit is duidelik dat daar 'n groter en meer direkte rol vir die staat in die proses voorsien word. Daar is egter nog geen duidelikheid oor wat die praktiese werkswyse gaan wees om hierdie uitgangspunte van toepassing te maak nie en Agri SA vertrou dat die deur van die regerende party nog oopstaan om daaroor met ander belanghebbendes oorleg te pleeg.

"Die aanduiding dat grondbesit deur buitelanders nie verbied gaan word nie is uiteraard 'n belangrike boodskap vir beleggers in die algemeen. Die ondersoek wat deur die regering oor die aangeleentheid laat doen het, het aangetoon dat buitelandse grondbesit geen noemenswaardige invloed op die landbougrondmark het nie. Die omstandighede regverdig dus nie drastiese regulering nie.

"Die RSA se grondwet magtig en het duidelike voorskrifte oor onteiening in openbare belang. Die inhoud wat die ANC egter aan terminologie soos "openbare belang" versus "openbare doel" in hierdie verband verleen, benodig opklaring. Agri SA stem saam met die beginsel van grondhervorming in terme van die Grondwet, maar om egter begrippe soos billikheid, regstelling en sosiale geregtigheid in vergoeding vir grond te verreken, gaan 'n uiters moeilike aangeleentheid wees, waaroor daar baie ernstig na eenstemmigheid gesoek sal moet word.

"Ongeag die die reg van die staat om van onteiening gebruik te maak - verkieslik as 'n laaste uitweg - is dit Agri SA se standpunt dat onteiening nie die aangewese instrument is waarmee groter momentum aan grondhervorming gegee moet word nie. Dit staan bo twyfel dat die grondmark genoeg geskikte grond vir grondhervormingsdoeleindes beskikbaar stel en dat 'n gebrek aan vordering met grondhervorming eerder aan ander beperkings in die stelsel toegeskryf moet word.

"Agri SA ondersteun steeds 'n stelsel van markverwante transaksies en het reeds aangebied om behulpsaam te wees om deur middel van grondvlak-organisasies beskikbare grond te identifiseer. Agri SA kan nie grootskaalse direkte ingrepe deur die regering in die grondmark steun nie en is van mening dat dit ongewens sowel skadelik vir die landbou en die ekonomie in die algemeen sal wees. Enige afwyking van 'n markverwante benadering tot grondhervorming sal aan volledige onderhandeling onderwerp moet word om te verseker dat billikheid en balans gehandhaaf word.

"Agri SA sal uiteraard meer suksesvolle nuwe toetreders ook vanuit die voorheen benadeelde gemeenskappe in die landbousektor gevestig wil sien, derhalwe is die organisasie en sy lede aktief besig om die omvang van ondersteuning en moontlike leemtes aktief na te gaan en te verbeter. Agri SA het reeds met die departement van grondsake gesprek gevoer oor 'n mootlike grondoudit. Ook hiermee het Agri SA en provinsiale affiliasies hulle samewerking aangebied. Ons ag 'n databasis oor vordering met grondhervorming as van kernbelang aangesien uitsprake oor grondhervorming daarsonder beperkte indien enige substans bevat."

21 Januarie 2008