Landbou
Beurtkrag knou suiwelbedryf
Deur THEUNS BOTHA

Melkprodusente word hard getref deur Eskom se beurtkrag. Totale verliese in die primêre bedryf kan soveel as R40 miljoen per maand beloop, sê dr. Koos Coetzee, ekonoom by die Melkprodusente-organisasie (MPO).

Volgens Coetzee het die onbetroubaarheid van Eskom se kragvoorsiening tot gevolg dat melkboere meer as R240 miljoen aan bystand-kragvoorsiening moes bestee. "Indien verliese binne die sekondêre bedryf bygereken word, verloor die primêre en sekondêre bedryf meer as R100 miljoen per maand. Dit sluit verliese uit wat die kleinhandelsektor ly wanneer die koue ketting weens kragonderbrekings verbreek word.

"Hierdie berekeninge sluit ook verliese aan voergewasse weens onderbreekte besproeiingskedules, laer produksie as gevolg van hittestress by koeie, skade aan elektriese motors en rekenaarstelsels uit."

Coetzee sê melkprodusente is veral kwesbaar vir kragonderbrekings gedurende melktye, wat noodwendig in die piekperiodes plaasvind. "Dit is onvermydelik dat beurtkrag sal bydra tot die styging in kospryse wat dus voedselinflasie oor die volgende paar jaar sal opjaag."

Mnr. Etienne Terre'Blanche, besturende direkteur van die MPO, sê die MPO is besig om regsadvies in te win rakende skadevergoeding.

23 Januarie 2008