Agri SA wil dringend met Eskom gesprek voer oor beurtkrag en die invloed daarvan op die landbou.
Mnr. Nic Opperman, direkteur: natuurlike hulpbronne, van Agri SA sê 'n versoek is aan Eskom gerig vir dringende samesprekings om die toepassing van beurtkrag en die invloed daarvan op die landbou uit te klaar. Agri SA se affiliasies het al verskeie interaksies met die streekkantore van Eskom gehad te midde van die ernstige krisis wat ondervind word.
Dit is veral beproeiing- en suiwelboere wat deur die beurtkragreëlings van Eskom geraak word. Ander landbou-vertakkinge wat van meganisasie- en produksielyne gebruik maak is in dieselfde bootjie. Vrugte bestem vir die uitvoermark kan nie betyds verkoel word nie en die koueketting wat so noodsaaklik is ook vir suiwelprodukte, word dikwels onderbreek of is net nie beskikbaar nie. Die landbou was nie voortydig oor die werklike omvang van die krisis ingelig nie, en kon gevolglik ook nie noodsaaklike gebeurlikheidsplanne betyds in plek kry nie. Die omvang van die skade is enorm en moet nog bereken word. Sommige affiliasies is reeds besig met opnames in hierdie verband.
Opperman sê die algemene gevoel is dat die verskaffer en die Regering nou op 'n deursigtige wyse oop kaarte moet speel oor die werklike toedrag van sake, ten einde die elektrisiteit wat beskibaar is optimaal te bestuur en na alternatiewe oplossings te soek.
23 Januarie 2008