Markverwante vergoeding is die beste benadering om te verhoed dat 'n individu, wie se bates in openbare belang onteien word, nie benadeel word nie, sê Agri SA in reaksie op verwikkelinge wat onteiening weer in die kollig plaas.
In 'n konsep-beleidsdokument oor 'n nuwe wet op onteiening sowel as 'n aanbeveling by die ANC se nasionale konferensie in Polokwane is opnuut op vergoeding by onteiening gefokus. Mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri SA, het in reaksie op die voorstelle gesê indien markverwante vergoeding die uitgangspunt is, behoort daar min probleme te wees.
Agri SA is egter omgekrap oor 'n insinuasie in die dokument dat 'n minister oor die bedrag vir vergoeding moet besluit en dat die hof dit bloot kan hersien as daar ontevredenheid is. In die beleidsvoorstelle wat einde verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer is en waarop belanghebbendes moet reageer, word ook voorgestel dat eiendom volgens die diskresie van 'n minister onteien mag word.
By Polokwane is voorgestel dat vergoeding tydens onteiening bepaal moet word ingevolge die Grondwet en met spesiale klem op billikheid, regstelling en maatskaplike geregtigheid.
Bosman sê Agri SA stem saam met die beginsel, maar om vergoeding ingevolge hierdie begrippe te verreken, gaan 'n moeilike kwessie wees waaroor daar baie ernstig na eenstemmigheid gesoek sal moet word.
Raadpleging met die publiek oor die nuwe wet vind op 15 Februarie in Gauteng plaas. Skale mnr. Thami Mchunu, ministeriële woordvoerder van die Departement van Openbare Werke, by tel 012 310 5142 vir inligting oor die vergaderplek.
Landbouweekblad, 1 Februarie 2008