Landbou
Nuwe planne met garsprys
AMELIA GENIS

Garsboere in die Kaap se ongelukkigheid oor die huidige metode ingevolge waarvan die garsprys vasgestel word, kan dalk uit die weg geruim word met 'n nuwe prysbepalingsmetode. Dié metode word tans deur 'n komitee van landbou-ekonome en amptenare van SAB Bpk. ontwikkel.

Mnr. André Uys van Overberg Agri wat namens dié onderneming op die komitee dien, sê hulle oorweeg twee prysvasstellingsmetodes. Die eerste is 'n produksiekoste-plus-metode en 'n die ander is 'n markgedrewe prys wat basies saam met die Safex-prys vir koring sal beweeg. Geen besluit is nog geneem nie.

Me. Janine van Stolk, kommunikasiebestuurder van SAB, sê die benadering is met alle belanghebbendes bespreek. Die doel was nog altyd om konsensus oor die prys te kry, maar aan die einde van die dag het die SAB gewoonlik 'n aanbod aan die garsboere gemaak. Die aanbod was in die vorm van kontrakte met landbou-ondernemings of die boere. Dit staan boere vry om die aanbod te aanvaar of van die hand te wys. Teen die tyd dat die 2007-oes ingesamel, en die invoerpariteitsprys vir gars by R3 000 per ton gaan draai het, was garsboere danig ontevrede met die SAB se aanbod van R1 700 per ton plus 'n premie wat volgens 'n glyskaal betaal word.

Prof. Nick Vink, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, sê die situasie in die Suid-Afrikaanse moutgarsbedryf is ideaal vir langtermynkontrakte. "Die garsboere en die SAB is afhanklik van mekaar en die SAB het 'n duur vermoutingsaanleg op Caledon. Maar albei partye wil altyd wen."

Uit Landbouweekblad, 1 Februarie 2008