Landbou
Groot eise dalk teen Eskom
ISABEL STOLTZ

Eskom staar skadevergoedingseise van miljoene rand in die gesig met sy toepassing van beurtkrag. 'n Versoek is gerig dat munisipaliteite en die Regering se aandeel in die kragdebakel ook ondersoek word.

Die Melkprodusente-organisasie (MPO) is besig om regsadvies in te win nadat dit aan die lig gekom het dat die melkbedryf verliese van meer as R100 miljoen per maand ly weens kragonderbrekings.

"Dit is onvermydelik dat beurtkrag sal bydra tot die styging in kospryse wat voedselinflasie oor die volgende paar jaar gaan opjaag," het mnr. Etienne Terre'Blanche, besturende direkteur van die MPO, gesê.

Die TLU SA sê ook die ekonomiese gevolge van beurtkrag is van só 'n aard dat dit die totale ekonomie bedreig.

"Die gevolge van die onderbrekings op landbou is ingrypend. Die sektor is grootliks afhanklik van biologiese prosesse wat nie gemanipuleer kan word nie. Indien boere nie betyds en noukeurig oor die toepassing van beurtkrag ingelig word nie, bestaan die wesenlike risiko dat 'n totale oes van 'n bepaalde produk verloor kan word," het mnr. Paul van der Walt, voorsitter van die TLU SA, gesê.

Hy sê dit is ooglopend dat die gevolge nie na behore deur die owerheid en diensverskaffers bereken is nie.

Volgens dr. Koos Coetzee, ekonoom by die MPO, verloor melkprodusente tot soveel as R40 miljoen per maand weens Eskom se beurtkrag. As verliese in die sekondêre melkbedryf bygereken word, beloop dit meer as R100 miljoen per maand.

Die onbetroubare kragvoorsiening het ook veroorsaak dat melkboere bykomend meer as R240 miljoen aan bystand-kragvoorsiening moes bestee.

Die berekeninge sluit nie verliese aan voergewasse weens onderbreekte besproeiingskedules, skade aan elektriese motors en rekenaarstelsels, laer produksie en verliese in die kleinhandelsektor wanneer die koue ketting verbreek word, in nie.

Die Openbare Beskermer (OB) het bykomende inligting oor skade met kragonderbrekings van die VF Plus aangevra vir 'n besluit of hy voortgaan met 'n ondersoek teen Eskom.

Dit volg nadat die VF Plus in 'n brief aan die OB gevra het dat die beoogde ondersoek uitgebrei word na munisipaliteite en die Regering.

Volgens mnr. Willie Spies, die VF Plus se woordvoerder oor minerale en energie, is Eskom nie die enigste skuldige met die probleme nie.

"Talle munisipaliteite het die afgelope drie weke deur onoordeelkundige uitvoering van beurtkrag nóg groter ontwrigting veroorsaak. In Durban het mnr. Sandile Maphumulo, die hoof van die elektrisiteitsafdeling, aan 'n koerant toegegee dat 'n kommerwekkende uittog van elektrisiëns en tegnici in dié afdeling tot die krisis bygedra het," het Spies gesê.

Die vakbond Solidariteit is besig met 'n openbare "web-verhoor" oor Eskom waar lede van die publiek hul verhale van skade en ongerief weens gebrekkige kragvoorsiening kan vertel.

"Publieke druk op Eskom sal help om in die behoefte op kort termyn te voorsien deur onderhoud- en vaardigheidsprobleme te takel," het mnr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.

Hy sê die "verhore" is nie daarop gemik om Eskom te ondermyn nie, maar om die omvang van die probleem by die kragvoorsiener tuis te bring.

Die bydraes sal in 'n bundel aan Eskom en die Regering oorhandig word en deur die VF Plus gebruik word vir voorlegging aan die OB. Klagtes kan op Solidariteit se webadres www.eskomstories.co.za geboekstaaf word.

Beweringe dat Eskom se gebruik van swak steenkool (omdat goeie steenkool uitgevoer word) tot die kragvoorsieningprobleem in Suid-Afrika bydra, is deur 'n werknemer ontken. "Die kragstasies is ontwerp vir die gebruik van lae gehalte steenkool. Dit beïnvloed dus nie kraglewering nie."

Tog keur Eskom blykbaar die steenkool wat hy gebruik ingevolge 'n streng straf- of bonusbeleid wat betaling volgens die inhoudswaarde bepaal. Mynhuise verloor glo miljoene rand daardeur, want Eskom gebruik in elk geval die steenkool — of dit aan vereistes voldoen of nie.

Na bewering is steenkool ter waarde van R38 miljoen van 'n klein myntjie by Belfast volgens dié beleid in een maand "afgekeur".

Die kragprobleem kom na bewering al uit die vorige bedeling toe besluit is om minder geld aan kragstasies te bestee. Verskeie stasies — die Wilge- (Ogies), Komatie- (Blinkpan), Camden- (Ermelo) en Grootvleikragstasie is "afgeskakel" en myne wat steenkool daaraan gelewer het, is gesluit — ten spyte van waarskuwings dat dit nie oornag weer in diens gestel kan word nie. Talle mense het hul werk verloor en miljoene rand se belastinggeld is op dié manier vermors.

Sedert 1997 is daar gewaarsku dat probleme gaan ontstaan met 'n tekort aan steenkool en tekort aan krag vanaf 2006. Die tekort aan steenkool geld al vanaf 2000.

Om te bespaar en nie myne oop te maak nie, want dit kos geld en lei tot kleiner bonusse, is bestaande myne verplig om bo hul ontwerpvermoë te produseer. Swart mense is bemagtig om steenkool na kragstasies aan te ry. Dit het veroorsaak dat strategiese uitskot- en opgaarhope by myne verdwyn het — met die gevolg dat as iets by die myn skeefloop, is daar nie genoeg steenkool vir die ketels nie en die eenheid kan nie krag opwek nie.

Die slotsom word gemaak dat die kragkrisis die gevolg is van swak besluite deur mense wat nie bevoeg was (en steeds is) om die werk te doen nie.

Dié beweringe is op Landbouweekblad se gespreksforum gemaak. Verskeie pogings om kommentaar by Eskom te kry, was nie suksesvol nie.

Uit Landbouweekblad, 1 Februarie 2008