Samesprekings op hoëvlak tussen die Suid-Afrikaanse ambassade in Bangkok en die Thaise minister van landbou is aan die gang oor Thailand se weiering om enige vars vrugte, hoofsaaklik tafeldruiwe, vanaf Suid-Afrika in te voer. 'n Verandering in Thailand se fitosanitêre beleid is eersdaags moontlik en word as rede hiervoor verskaf.
Dit is nie bekend hoeveel vraghouers op beslag gelê is nie, maar volgens me. Alice Baxter van die Departement van Landbou se direktoraat vir plantgesondheid (DPG) het die bedryf die Oosterse markte die afgelope tyd geteiken om gereed te wees vir die naderende Chinese Nuwe Jaar.
"Ek neem aan dit is baie vraghouers. Thailand is 'n belangrike uitvoermark vir tafeldruiwe, appels en pere."
Sy sê die DPG het 'n dringende beroep op sy eweknie in Thailand gedoen om die verdere verwerping van SA tafeldruiwe te keer.
"Ons verstaan dat vraghouers met Suid-Afrikaanse produkte wat tans amptelik weerhou word, eers behandel sal moet word voor toegang toegelaat sal word. Ons weet egter nie of dit beroking of alternatiewe fitosanitêre behandeling beloop nie.
"Suid-Afrika se versoek om vrystelling sal aan 'n raad voorgelê word, maar dit kan tot twee maande duur voor 'n besluit geneem word."
Uit Landbouweekblad, 1 Februarie 2008