Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) het die eerste wolproduserende vereniging in die land geword om 'n gedragskode van goeie praktyke te aanvaar. Dit baan die weg om Suid-Afrikaanse wol in die toekoms onder die "groen vaandel" te bemark.
Mnr. Petrus de Wet, voorsitter van die NWKV, het aan Landbouweekblad gesê dat 'n dokument ná bykans 18 maande van bespreking verlede week goedgekeur is. Hierin word onder meer verklaar dat wolboere wat dit onderteken, nie van kinderarbeid gebruik maak nie, daar nie met skape vir verder as 20 km per dag getrek word nie, die skape moet vir 'n tyd in die skeerhuis gehou word ná hulle geskeer is, daar moet altyd toegang tot voldoende water vir die skape wees en Mules se operasie vir die beheer van brommers mag nie toegepas word nie.
Die dokument sal nou deur die NWKV se takke na wolboere versprei word om onderteken te word. Die inligting sal ook saam met die naam van produsente op die verkoopskatalogus verskyn en teen volgende seisoen geïmplementeer word.
De Wet het ook bekend gemaak dat die NWKV se paaie met dié van Intervet geskei het. Intervet het die afgelope sewe jaar die organisasie finansieel ondersteun. Die NWKV het reeds 'n nuwe ooreenkoms met die Ierse farmaseutiese maatskappy Norbrook, wat later vanjaar in Suid-Afrika handel gaan dryf, onderteken. Hy wou nie sê wat die bedrag is wat ter sprake is nie.
Uit Landbouweekblad, 1 Februarie 2008