Cape Wools het die name van die drie Suid-Afrikaanse finaliste in die 2007/'08 Zegna internasionale fynwolkompetisie bekend gemaak. Hulle is mnre. Donald Young van Kokstad, Bruce Dewing van Cathcart en Carli en Jules van Aardt van Cookhouse.
Zegna, die bekende Italiaanse vervaardiger van fynwolkleedstowwe, bied die kompetisie tweejaarliks aan met die doel om fynwolprodusente aan te moedig om die gehalte van hul wol te verbeter.
Die kompetisie bestaan uit twee afdelings. Die eerste afdeling is die Zegna Vellus Aureum (VA) -trofee vir superfyn vagte (fyner as 13,9 mikron) waarvoor alle wolproduserende lande kan inskryf. Die tweede afdeling is die Zegna VA Challenge vir vagte van 14 tot 17,9 mikron waarvoor slegs Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Argentinië mag inskryf.
In beide kompetisies ontvang die beste drie vagte van elke deelnemende land 'n toekenning. Die wenvag uit elke land word daarna na Australië gestuur waar die finale beoordeling plaasvind en 'n algehele wenner in elke afdeling aangewys word.
Elke land se wenner en metgesel reis op Zegna se koste na Australië vir die prysuitdelingsfunksie wat op 24 April vanjaar in Sydney gehou word.
Punte word volgens 'n punteskaal toegeken vir veseldikte, gewig, treksterkte en eenvormigheid in die stapel. Veseldeursnee tel die meeste punte, nl. 50 uit 'n totaal van 100. Die beoordelaars let ook veral op treksterkte en die gesonde groei van die stapel en hongerfynwol word gediskwalifiseer. Die wol moet ook 'n goeie lengte hê.
Volgens Cape Wools is 128 inskrywings ontvang. Dit is die meeste inskrywings wat sedert die instelling van die kompetisie in 2002 ontvang is. Hiervan was net drie vagte 15 mikron en fyner.
In totaal was net 20 vagte fyner as 16 mikron, 52 was tussen16 mikron en 17 mikron, terwyl 30 vagte tussen 17 mikron en 18 mikron getoets het. Ses en twintig vagte is gediskwalifiseer omdat hulle te sterk was.
24 Januarie 2008