Agri SA sê hy verwelkom die trant van die gesprek met die Minister van Landbou en Grondsake wat in Pretoria plaasgevind het met die oog op kort- en langtermyn oplossings vir die stygende broodprys.
Agri SA sê in nuusverklaring: "Ons het veral die Minister se siening dat daar nie teruggekeer sal word na direkte Regeringsinmenging in die voedselmark nie, verwelkom. Sy het spesifiek gewag gemaak van die behoefte aan maatreëls gerig op die moontlike benutting van alternatiewe energiebronne deur bakkerye, koste besparende praktyke vir kleiner bakkerye deur onder andere meer direkte aankope van voorrade by groot meulenaars en toegang tot Seta-opleiding om produktiwiteit te verhoog.
"Daar is besluit dat die Nasionale Landboubemarkingsraad 'n ondersoekkomitee, inklusief van alle rolspelers, aanstel om in die hele waardeketting van broodvoorsiening te ondersoek met die oog op kostebesparende praktyke.
"Die vergadering het kennis geneem van 'n inset van Agri SA waarvolgens strukturele aanpassings in die wêreld landbou asook plaaslik gelei het tot algemene stygings in kommoditeitspryse. Die feit dat die plaaslike koringbedryf nog nie hierop in die vorm van verhoogde produksie gereageer het nie, dui daarop dat daar bepaalde beleidsverskuiwings moet plaasvind voordat die plaaslike bedryf daarop sal reageer. Dit geld ook vir ander landboukommoditeite."
26 Januarie 2008