Eskom se streekkantoor in Limpopo is versoek is om alle lynfooie wat op Eskom-rekeninge gehef word, af te skryf vir die tye wat gebruikers sonder elektrisiteit is.
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU SA Noord, sê dat Eskom se streekkantoor versoek is om alle lynfooie wat op Eskom-rekeninge gehef word, af te skryf vir die tye wat gebruikers sonder elektrisiteit is.
'n Brief gedateer 22 Januarie 2008 is aan die Limpopo-hoof van Eskom gestuur waaarin versoek word dat alle lynfooie vir die tydperke wanneer lede kragonderbrekings ervaar, van die rekeninge afgetrek word. Eskom is ook versoek om 'n kontaknommer en naam, in Polokwane en vir elke distrik, te verskaf van 'n werknemer by Eskom se rekeninge-afdeling sodat die nodige afskrywings gereël kan word. Joubert het die hoop uitgespreek dat Eskom wel die nodige samewerking in die verband sal gee.
Die brief dui ook aan dat lede van die TLU SA Noord gretig is om saam met Eskom kragbesparende maatreëls in werking te stel.
Joubert sê dat die streekkantoor reeds eisvorms by die Eskom-kantoor op Polokwane afgehaal het en aan lede uitgestuur. Die bedoeling is dat 'n geraamde werklike skade aan die landbou op dié manier gemeet kan word. Mense wat in dorpe en stede woon, kan ook die streekkantoor skakel en die vorms afhaal.
Joubert het gewaarsku dat die aanhoudende kragonderbrekings onberekenbare skade aan die ekonomie aanrig. Hy sê dit is nog 'n teken van 'n regering wat ideologie bo die voorspoed en vrede van 'n totale bevolking stel. Hy het lede aangemoedig om alternatiewe, meer volhoubare energiebronne te ontwikkel.
28 Januarie 2008