Landbou
Grondtaks: Munisipaliteite stoom voort
Deur ISABEL STOLTZ

Munisipaliteite stoom voort met die implementering van grondbelastings sonder om ekonomiese implikasies ingevolge Munisipale Heffingswet 6 van 2004 te verreken, sê mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU SA Noord.

"Ten spyte van beloftes en ooreenkomste het geen munisipaliteit, provinsiale of nasionale departement enigsins 'n poging aangewend om die impak van die wetgewing op belastingbetalers te ondersoek nie."

So 'n impakstudie behoort agterstallige munisipale skuld, wanbetaling en gratis dienste in sekere gebiede te ondersoek, sê Joubert.

Volgens mnr. Tinus Taute, bestuurder van ekonomiese sake by die TLU SA, is dié kwessie al lank 'n twispunt.

"Dit is onaanvaarbaar dat munisipaliteite doen wat hulle wil. Die TLU SA kon nie 'n enkele munisipaliteit in enige provinsie opspoor wat bewys kan lewer dat 'n impakstudie gdoen is oor die ekonomiese uitwerking van grondbelasting nie."

31 Januarie 2008