Die landbou-onderneming Kaap Agri en die Land Bank se verhouding van sowat 95 jaar is verlede week beëindig. Kaap Agri het sy leningsgerief by die Land Bank na 'n handelsbank verskuif.
Kaap Agri is die eerste groot landbou-onderneming wat sy bande met die Land Bank verbreek. Kaap Agri se lenings by die Land Bank beloop glo honderde miljoene rande.
Dr. John Purchase, hoof uitvoerende beampte van die Landboubesigheidskamer (LBK), sê soortgelyke skuiwe behoort nie algemene sakevertroue binne die landbousakesektor veel te beïnvloed nie.
Mnr. Ernst Janovsky, landbouhoof by Eerste Nasionale Bank, beskou die neiging dat landbou-ondernemings hul finansieringsake verskuif na handelsbanke as 'n "omwenteling" van landbou-ondernemings. "Handelsbanke vra meer geld vir hul dienste. Dit is 'n moeilike besluit, maar ek dink landou-ondernemings weeg die skuif op teenoor die risiko wat geloop word om dalk nie toegang tot kontant in die toekoms te kan hê nie," het hy gesê.
Uit Landbouweekblad, 8 Februarie 2008