Landbou
'Trots op dié restitusie-plaas'
NICO VAN BURICK

Daar is lank gesoek na 'n model wat kan bewys dat grond wat met die restitusie-proses oorgedra is, weer produktief kan wees, maar Limburg in Limpopo is só 'n voorbeeld, sê mnr. Sello Moloto, premier van Limpopo. Volgens hom is Limburg een van die min restitusie-plase waarop 'n mens kan trots wees.

Hy het op die bekendstelling van 'n voerkraalprojek waarby sowat 300 bestaansboere sal baat vind, gepraat.

Die Bruboer Landbou- en Nywerheidsonderneming het in 2001 saam met die Bohwa Bja Rena-gemeenskapstrust by die bestuur van die plaas, toe bekend as Gillemberg, betrokke geraak. Dié spoglandgoed waarop daar onder meer in 'n stadium 5 000 beeste was, het geldelik in die knyp geraak nadat dit deur die provinsie se landbou-ontwikkelingskorporasie (ARDC) oorgeneem is. Die 25 000 ha grond is aan die 724 families wat op die plaas gewoon en gewerk het, oorgedra.

Mnr. Dries Bruwer, voorsitter van Bruboer, sê toe die plaas oorgeneem is, was daar net 120 beeste oor. Die kudde het intussen weer aangegroei tot 1 000.

Sedert 2001 is die sitrusboerdery ook verbeter van 125 000 kartonhouers tot sowat 540 000 kartonhouers uitvoersitrus wat vanjaar verwag word.

Die jongste toevoeging is die voerkraalkompleks wat vir 3 000 beeste by twee voerkrale voorsiening sal maak. Dié projek is met die geldelike hulp van die Europese Unie aangepak.

Uit Landbouweekblad, 8 Februarie 2008