Landbou
Grondkoop: Bedrog of nie?
ISABEL STOLTZ

Dit lyk of daar 'n slang in die gras is met 'n private maatskappy se aansprake dat hy 'n mandaat van die Regering het om grond vir herverdeling te koop.

Eiendomsagente reken tot 20 % van die totale landbou-oppervlakte in die land kan moontlik reeds betrokke wees in dié verdagte grondtransaksies.

Die Departement van Landbou en die Departement van Grondsake praat nie uit een mond oor die kwessie nie. Mnr. Tozi Gwanya, direkteur-generaal van Grondsake, hou vol dat voornemende verkopers bedrieg word.

Mnr. Roux Shabangu, 'n sakeman en direkteur van Roux Property Development Africa en African Dunes Investments, is al sedert Oktober verlede jaar besig om landwyd plase te "werf" vir die Regering met die oog op herverdeling. Hy beweer hy het 'n mandaat van die Regering daarvoor. Niemand het egter al só 'n ooreenkoms onder oë gehad nie.

Mnr. Godfrey Mdhluli, hoof van personeel en kommunikasie in die minister se kantoor, sê daar is wél só 'n ooreenkoms en Gwanya sê daar is nie.

Tot 17 plase ter waarde van R180 miljoen is deur 'n enkele agent in die Wes-Kaap aangebied en volgens 'n agent in Limpopo het hy 38 plase aangebied. Tientalle agente landwyd is deur die maatskappy genader.

Landbouweekblad is egter in besit van 'n brief van dié maatskappy waarin beweer word die maatskappy het 'n regeringsmandaat vir die koop van plase vir herverdeling "en grondeise". Die plase moet liefs nie kleiner as 100 ha wees nie ("hoe groter, hoe beter") en die prys is nie 'n probleem nie, word in die brief gesê.

Gwanya sê die departement oorweeg nie stappe nie, want "dit raak nie die departement nie". Volgens hom is dit die verkopers wat bedrieg word.

Lees die volledige berig in Landbouweekblad, 8 Februarie 2008