Landbou
Transnet skok met tarief
SUSAN BOTES

Transnet gaan sy tariewe vir die spoorvervoer van graan met tot 22% verhoog. Hierdie stygings word allerweë as buitensporig en ontydig beskou.

Tariewe vir die spoorvervoer van graan styg met 16,5% tot 22 %. Wanneer meer as 10 trokvragte vervoer word, is die koste 16,5% hoër as tevore. Die koste van die vervoer van minder as 10 trokke styg met 19,5%. In geval van ontoeganklike gebiede wat nie baie winsgewend is nie, sal die koste met 22% styg.

Dr. John Purchase, die Landboubesigheidskamer (LBK) se bestuurshoof, sê hierdie stygings is 'n bron van kommer vir die LBK. "Doeltreffendheid word nie verbeter deur 'n probleem met geld te bestook nie, maar deur beter bestuursmetodes. Mededinging is byvoorbeeld 'n beter opsie. Die LBK verneem dat Transnet die styging wil stilhou, maar dit is nodig dat verbruikers moet weet hoekom kospryse styg."

Purchase is ook bekommerd oor die feit dat die stygings so kort op die Eskom-tariefverhogings volg. "En dan is die bykomende uitgawes aan byvoorbeeld kragopwekkers deur boere en landboubesighede nog nie eens in ag geneem nie."

Uit Landbouweekblad, 8 Februarie 2008