Landbou
Verander koshulp, vra Bush
Deur MARLEEN SMITH

President George Bush wil hê Amerikaanse wetgewing moet verander word sodat graan vir voedselhulp aan arm lande regstreeks vanaf daardie lande se boere gekoop kan word.

Só 'n verandering sal ontwikkelende lande se landboubedrywe versterk en die kringloop van hongersnood help breek, het Bush in sy jaarlikse staatsrede op Capitol Hill gesê.

Heersende wetgewing vereis dat Amerikaanse regeringsagetskappe die kosvoorrade vir buitelandse voedselhulp in Amerika koop. Dié land is die wêreld se grootste skenker van voedselhulp, en gee elke jaar omtrent die helfte van alle voedselhulp wêreldwyd. Verlede jaar was dit $1,7 miljard se hulp aan 23 miljoen mense in 30 lande. Vanweë die beperkende wetgewing word die meeste hiervan egter in Amerika gekoop, verwerk, verpak en dan oorsee verskeep.

Hulporganisasies kla dat dit nie net noodhulp soms met maande vertraag nie, maar onnodige koste meebring. "Dit is skandalig dat die helfte van elke voedselhulp-dollar nie gebruik word om hongeres te voed nie, maar in die sakke van Amerikaanse maatskappye beland wat die kos verwerk, verpak en verskeep," het Eerw. David Beckmann, president van die organisasie Bread for the World, in reaksie op Bush se oproep om verandering gesê.

Beckmann het Bush geprys dat hy sy staatsrede gebruik het om die aandag op dié probleem te vestig.

Die Bush-administrasie het verlede jaar al sonder sukses die land se wetgewers probeer oortuig om die wet aan te pas sodat tot 'n kwart van die land se voedselhulp oorsee gekoop mag word. Die Amerikaanse kommoditeitsbedrywe is hewig teen so 'n verandering gekant.

Voedselhulp-regulasies vorm deel van die Farm Bill, die omnibus wetgewing wat Amerika se kos- en landboubedrywe in die komende vyf jaar moet reguleer, maar waaroor die wetgewers steeds nie kan ooreenkom nie.

Die Senaat en Huis van Verteenwoordigers het na maande van onderhandeling elk 'n eie weergawe van die Farm Bill aanvaar. Dié moet nou in 'n enkele wet saamgevoeg word, wat vir ondertekening na Bush toe gestuur sal word.

Hy dreig egter steeds om die Farm Bill te veto mits dit voldoende hervorm is - onder meer met veel kleiner subsidies vir Amerika se boere as in die heersende bedeling.

4 Februarie 2008