Verbruikers moet vars groente, vrugte, vleis en melk geniet terwyl dit nog beskikbaar is, sê die voorsitter van die TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert.
Dit volg nadat mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die TLU SA Noord se ekonomiese komitee die effek van die elektrisiteitstekorte op die landbou verduidelik het.
Volgens Hoffman het die onderbreking in die elektrisiteitstoevoere 'n baie negatiewe uitwerking op die winsgewendheid van boerdery omdat daar nou 'n nuwe risiko toegevoeg is tot landbouproduksie. Die slegte nuus is egter dat dit die verbruiker net so negatief gaan raak aangesien die landbou net 'n skakel in die ketting van voedsel- en veselvoorsiening is. Voedseltekorte kan ontstaan as gevolg van die onvermoë van die landbou om optimaal te produseer en te bemark sonder stabiele elektrisiteitsvoorsiening.
Melkerye en abbatoirs se deursette word baie ernstig geraak deur kragverliese omdat hoogs bederfbare produk verwerk word. Duisende liters melk het reeds verlore gegaan omdat dit nie vinnig genoeg verkoel kon word nie. Die onderbreking van die proses om beeste te melk en dan toerusting weer skoon te kry bring sy eie unieke probleme mee.
Joubert het die hoop uitgespreek dat Eskom en die regering moeite sal doen om die werklike rede vir die chaotiese kragvoorsiening op 'n eerlike manier sal ondersoek en besluite sal neem wat die probleem kan oplos.
4 Februarie 2008