Die eerste katoen-oesskatting vir die 2007/08-produksiejaar dui op 'n daling van 4% teenoor die oes van die vorige seisoen en die kleinste oes in meer as veertig jaar.
Volgens die jongste skatting van Katoen SA word 'n totale katoen-oes van 53 974 bale vesel verwag - bykans 'n derde minder as drie jaar gelede. Dit word toegeskryf aan 'n persepsie dat katoenboerdery nie meer 'n lewensvatbare opsie is in die lig van meer gunstiger pryse vir ander mededingende somergewasse nie.
Mnr. Hennie Bruwer, uitvoerende hoof, sê katoen ondervind veral strawwe mededinging van gewasse soos mielies en sonneblom waar pryse die hoogte ingeskiet het. Dit bied boere groter winste en vereis ook minder insette. Hy sê hy is egter bewus van verskeie boere wat tradisioneel katoen geplant het, wat nou met gemengde welslae mielies onder besproeiing geplant het.
"Ek is oortuig die gety is besig om te draai vir katoen en met pryse wat dramaties verbeter het, behoort boere in die nuwe plantseisoen beslis weer katoen te oorweeg. " Hy sê veral in die VSA het katoeproduksie só drasties afgeneem dat daar net vir uirvoerverpligtinge voorsiening gemaak kan word.
5 Februarie 2008