Die toekomstige uitwerking van die kragkrisis op die landbou en ander sektore is op vanjaar se eerste vergadering van die Regering se ekonomiese groepering bespreek. Die direkteurs-generaal (DG's) van staatsdepartemente het sektorale kwessies met hul onderskeie verantwoordbare ministers bespreek.
Mnr. Masiphula Mbongwa, direkteur-generaal van Landbou, het voor die vergadering aan Landbouweekblad gesê die doel van die ontmoeting is nie om bloot oor sake te bespiegel nie.
"Ons het nog nie behoorlik ramings gedoen oor die presiese invloed van die kragsituasie op die landbou nie. Maar ons kan nie van die feit weghardloop dat die landbou beslis hierdeur geraak gaan word nie." Volgens Mbongwa is dit nou noodsaaklik dat hy dringend met die onderskeie bedrywe vergader om dié inligting te bekom.
Die kragkrisis is vir die landbou, wat op die drumpel van groot uitbreidings staan om in die toenemende vraag na landbouprodukte te voorsien, erg ongeleë. Die staat se plan om opkomende boere by dié uitbreidings te betrek deur groter ondersteuning aan nuwe boere te gee, blyk ook in die gedrang te wees. Die staat maak geen geheim daarvan dat hy landbouproduksie met 15 % deur grondhervorming wil verhoog nie. Mbongwa is egter versigtig om te voorspel of Suid-Afrika op die rand van voedseltekorte staan.
Mbongwa sê totdat spesifieke besluite oor die landbou geneem kan word, is ooreengekom om dit onderhewig aan die planne van die departemente van openbare ondernemings en minerale en energie te doen.
Landbouweekblad, 15 Februarie 2007