Die Departement van Waterwese en Bosbou het dit ten sterkste ontken dat 'n waterkrisis, wat met die huidige elektrisiteitskrisis vergelyk word, die land bedreig.
Me. Linda Page, 'n woordvoerder van die Departement van Waterwese en Bosbou, het aan Landbouweekblad gesê dat bewerings in 'n Sondagkoerant oor Suid-Afrika se wankelrige watertoekoms uit verband geruk is.
Die Sondagkoerant verwys na 'n uitgelekte verslag van die Nasionale Kernkragreguleerder (NNR) waarin gemeld is dat die omgewing, landsburgers en sekere landboubedrywe word deur onsuiwer water bedreig word. Volgens die verslag ondervind 43 % van alle damme wat deur die departement bestuur word veiligheidsprobleme. Verder word genoem sowat R180 miljard is nodig om verouderde waterinfrastruktuur te vervang.
In 'n verklaring van me. Lindiwe Hendricks, Minister van Waterwese en Bosbou, sê sy R1,2 miljard is verlede jaar begroot vir die verbetering van damme. "Ons het nie 'n waterkrisis as gevolg van swak beplanning nie," het sy gesê. Sy plaas die skuld eerder op groot verbruikers, soos sekere boere, wat "onwettig" water gebruik.
Dr. Jo Barnes, epidemioloog van die departement gemeenskapsgesondheid aan die Universiteit Stellenbosch wat al tien jaar lank navorsing doen oor mikrobiologiese besoedeling in veral besproeiingsgebiede van die Wes-Kaap, verskil van Hendricks.
"Daar is min verskil tussen die kragkrisis en die watersituasie. Laasgenoemde is 'n meedoënlose aftakeling deur die departement. Tien jaar gelede het talle kenners ook oor die dreigende kragkrisis gewaarsku," het Barnes gesê.
Landbouweekblad, 15 Februarie 2007