Die prys van rooivleis word deur die land se drie grootste supermarkte bepaal. Dit wat boere ontvang, hang egter grootliks af teen watter prys die laaste besending ingevoerde rooivleis in Suid-Afrika geland is, sê mnr. Albie Jacobs, ondervoorsitter van RPO in die Oos-Kaap.
Jacobs het op 'n streeksvergadering van die NWKV op Steytlerville gesê hoewel 'n sekere supermark verlede jaar 'n groot ophef gemaak het van sogenaamde organiese beesvleis wat van Namibië invoer is, dit in die winkels waar dit verkoop is, net sowat 0,5 % van die rakspasie opgeneem het. "Die hele poging was eerder daarop gemik om voete in hul winkels te kry as om regtig in 'n markbehoefte te voorsien."
Hy sê teen Kerstyd het die gaping tussen die kleinhandel- en produsenteprys aansienlik vergroot. Skenkelbeen is byvoorbeeld teen R52/kg verkoop, terwyl die boer vir lamsvleis maar net sowat R32/kg vir die hele karkas ontvang het. Hy meen egter nie dat dit op die weg van 'n produsente-organisasie, soos die Rooivleisprodusente-organisasie, lê om met werking van die vrye mark in te meng nie.
Mnr. Braam Coetzee, produksie-adviseur van die NWKV, het saamgestem dat die lewering van organiese vleis aan die handel dikwels op die lang duur sneuwel. Dit is die produsente wat die vleis lewer dit, volgens hom, selde op 'n deurlopende grondslag kan doen. Daar is ook nie betekenisvolle geldelike voordele vir hulle nie. "Baie van die soort vleis verdwyn dan stil-stil van die rakke."
Landbouweekblad, 15 Februarie 2007