Misdadigers wat boere langs die Lesotho-grens teister en die staat se beweerde onbetrokkenheid om dié boere teen misdaad te beskerm, het Vrystaat Landbou op sy agterpote.
Dié organisasie en sy regspan, insluitend adv. George Bizos, het ministers, leiers in die Vrystaatse regering en staatsdepartemente nou net 14 dae gegee om te sê hoe hulle dié boere gaan beskerm.
Mnr. Louw Steytler, voorsitter van Vrystaat Landbou, sê as die regering nie dié kans benut nie, sal sy organisasie nie anders kan as om hom tot die Grondwethof te wend om die Regering te verplig om boere op die grens te beskerm nie.
"Ons het hulle (die leiers) nou al sewe jaar lank tyd gegun om hul verpligting na te kom. Sewe maande gelede is regsaanmanings gegee. Tot nou toe is ons oor die hoof gesien."
Landbouweekblad, 15 Februarie 2007