Landbou
Toerisme-belang vir wynbedryf


Die Suid-Afrikaanse wynbedryf kan nie slegs met produksie voortbestaan nie, maar moet besef dat wyntoerisme 'n noodsaaklike deel van enige volhoubare wynbedryf is, sê dr. Johan van Rooyen, hoof uitvoerende beampte van die SA Wynbedryfsraad.

Hy het op die opening van die nuwe proelokaal op L'Avenir, Stellenbosch, gesê die plaaslike wynbedryf dra R22 miljard by tot die Suid-Afrikaanse bruto binnelandse produk. Die makro-ekonomiese studie na hierdie syfer het aangetoon dat 'n kwart daarvan regstreeks verband hou met wyntoerisme. Boonop neem dié syfer toe.

"Met produksievlakke oor die wêreld heen wat die aantal verbruikers oortref, moet Suid-Afrika sy eiesoortige wynbedryf-aanbiedings benut. Met die vergroting van hierdie geleentheid sal wyntoerisme stabiliteit aan die bedryf bring in tye van onsekerheid," het Van Rooyen gesê. Landbouweekblad, 15 Februarie 2007