Landbou
Afleggings by Afgri


Terwyl 220 werknemers by 23 takke van die landbougroep Afgri beplande afleggings in die gesig staar, skets die groep se finansiële state 'n veel meer rooskleurige prentjie. Afgri het op 1 Februarie 'n Artikel 189-kennisgewing aan takkantore gestuur om personeel van die beplande afleggings in te lig. Hiervolgens sou die proses op Maandag, 4 Februarie begin. Meer as 12% van Afgri se 1 806 werknemers word deur die proses geraak.

Mnr. Reint Dykema, woordvoerder van Solidariteit, sê in 'n nuusverklaring werknemers is vroeë aftrede of moontlike verplasing as alternatief tot aflegging aangebied. Werknemers wat in die afleggingsproses afgedank word, sal tot einde Maart in diens van Afgri wees. Volgens die Artikel 189-kennisgewing aan Afgri-werknemers het die bestuur alle faktore rakende die besluit, sowel as die toekoms en verwagte uitbreidings in die landbou in ag geneem, maar het "geen ander keuse as om die (afleggings)proses te begin nie."

Volgend Dykema is dit nie die eerste keer dat Afgri takkantore sluit of personeelvermindering toepas nie. Onlangse afskaling van besigheid was onder andere die afskaling van die hoofkantoor en die verskuiwing daarvan van Brooklyn na Centurion, die opskorting van die AfgriGholf-, Techniland- en Agrimarge-afdelings en die sluiting van die Wes-Vrystaat meganisasietakke, sowel as verskeie ander takkantore.

Volgens Afgri se jongste finansiële state het die groep in die 2007-boekjaar baie goed gevaar. Die groep het in 2007 merkwaardige groei getoon, met 60,38% groei in wins en groei van meer as 65% in hoofverdienste per aandeel. Sedert 2005 het die groep se wins met 70,4% toegeneem. Bestuur het grootliks by Afgri se vooruitgang gebaat. Afgri HUB, JD Wright, het in 2007 'n vergoedingspakket - bestaande uit basiese salaris, toelaes, bonusse en maatskappybydraes - van meer as R4,6 miljoen gekry, 62,9% meer as in 2006. Direkteure se vergoeding is in dieselfde tydperk ook met meer as 43% verhoog. Bonusse wat in 2007 aan direkteure, insluitende die HUB, uitbetaal is, beloop meer as R4 miljoen teenoor die sowat R1,15 miljoen van 2006, sê Dykema.

"Die situasie by Afgri is kommerwekkend. Die afleggings sal nie net 'n finansiële uitwerking op die maatskappy hê nie, maar werknemers se moreel sal beslis ook daaronder ly. Solidariteit sal namens sy lede die finansiële groei as ammunisie teen Afgri se afleggingsplanne gebruik. Afgri se vooruitgang is duidelik in sy finansiële state en die vet bonusse wat aan hoofde betaal word, maar intussen moet werknemers die spit afbyt," sê Dykema.

7 Februarie 2008