Landbou
Boere stuit telefoonlyn-diewe


Verskeie boere het weer die SAPD en Telkom-amptenare bygestaan om diewe van koper-telefoonlyne in die Koedoesrand-gebied te stuit.

Verskeie boere het weer gedurende die nag van 31 Januarie 2008, tussen 03:00 en 07:00 hul tyd, sonder vergoeding, opgeoffer én hul lewens in gevaar gestel om die SAPD en Telkom-amptenare by te staan in hul pogings om die diefstal van telefoonlyne in die Koedoesrand-gebied te stuit, sê mnr. Rudi Heinlein, voorsitter van die Koedoesrand Distrikslandbou-unie van die TLU SA.

Die optrede was suksesvol en drie mense is gearresteer. Al die gesteelde draad is teruggevind.

Heinlein sê in 'n nuusverklaring: "Sedert die eerste telefoondraaddiefstal in 2001 in Koedoesrand voorgekom het, is die plaaslike boeregemeenskap aktief by die bekamping van hierdie soort misdaad betrokke. Verskeie arrestasies is die afgelope jare met plaaslike boere se hulp gemaak."

Die gebied is sedert 15 Augustus 2007 deur koperdraaddiefstal geteister en daar is na die jongste voorval 350 Telkom-telefone buite werking. Dit sluit in telefone van SAPD-kantore, grensposte, besighede, skole en huishoudings wat nou sonder telefoon kommunikasie is. Die probleem word vererger deur gebrekkige selfoonontvangs.

Koedoesrand is 'n boerdery-gebied en die situasie het 'n uiters ongunstige uitwerking op die ekonomiese bedrywighede van die gebied. Boere sukkel om doeltreffend met markagente en kliënte te skakel. Dienslewering deur en administrasie by staatsinstellings soos die grensposte, SAPD kantore en skole lei onder die huidige situasie.

Die gebrek aan telefoon kommunikasie beïnvloed ook die veiligheidsituasie in die gebied veral wat die bejaardes in die gebied betref. Baie van hulle bly alleen op afgeleë plase en beskik nie altyd oor selfone en radio's nie.

Hoewel die draad wat tydens hierdie optredes teruggevind is aan Telkom terugbesorg word, is daar sedert die eerste diefstal in Augustus 2007 weereens nog nie 'n enkele gesteelde lyn herstel nie. Dit wil ook lyk of herstelwerk nie baie gou gaan plaasvind nie.

Herhaalde skriftelike navrae aan Telkom rakende die gebrek aan telefoondienste het tot op hede geen reaksie opgelewer nie. Daar is ook nog geen antwoord van Telkom ontvang op navrae oor die tydsverloop totdat die lyne weer herstel sal word nie. Pogings om met verantwoordelike Telkom-personeel in aanraking te kom was ook tot dusver vrugteloos.

Heinlein sê boere stel hulself in gevaar, laat hul gesinne snags alleen tuis en offer tyd op vir hierdie optredes om skade aan Telkom-infrastruktuur te voorkom of te help om diegene wat die skade aanrig aan die man te bring. Dit wil egter voorkom asof die platteland en in hierdie geval Koedoesrand nêrens op Telkom se prioriteitslys is nie. As Telkom wel ernstig was om sy dienste in Koedoesrand in stand te hou, sou die gesteelde lyne lankal herstel gewees het.

11 Februarie 2008