Landbou
Markleier in groentesaad in SA
Deur NICO VAN BURICK

Die wêreldbekende groentesaadmaatskappy, Seminis, 'n divisie van Monsanto, gaan die Suid-Afrikaanse groentemark met mening aandurf. Monsanto, wat internasionaal bekend is vir sy GM mielie-, katoen- en sojasaad, het Seminis - 'n wêreldmarkleier in groentesaad - in 2005 vir R9,8 miljard aangekoop.

Volgens mnr Gerrie Reitsma, bemarkingsbestuurder van Seminis, gaan die maatskappy homself voorlopig toespits op die bemarking van die vernaamste groentegewasse. Die fokus van die genetika is op aanpasbaarheid, siekteweerstand, optimale opbrengs, produkkwaliteit, produktiwiteit, raklewe en hittebestandheid. Die teiken is om genetika te ontwikkel wat kan voldoen aan plaaslike toestande.

Dit behels 10 tot 20 variëteite per gewas en sluit die volgende in: tamaties, soetrissies, uie, koolgewasse soos broccoli, blom- en kopkool, asook blaarslaai en radyse. Rankgewasse sal skorsies, komkommer en spanspek insluit. Groentesoorte soos boontjies, ertjies, suikermielies en wortels sal ook aandag geniet, veral ten opsigte van die voedselverwerkingsbedryf.

"Seminis het toegang tot die beste genepoel wat ter wêreld beskikbaar is. Dit word gerugsteun deur 15 navorsingsentrums in verskeie lande wat tred hou met die jongste tegnologie in die ontwikkeling van nuwe gevorderde genetika in sy strewe na die beste kultivar," sê Reitsma.

12 Februarie 2008