Die vakbond Solidariteit verwerp die landboubesigheid Afgri se besluit om 220 werkers se diens te beëindig en 23 takke te sluit. Dié hartseer nuus is aan die werknemers oorgedra in 'n Artikel 189-kennisgewing wat op hulle bedien is, aldus mnr. Reint Dykema, landbou-woordvoerder van Solidariteit.
Volgens Dykema het mnr. Louis Smit, hoof-uitvoerende beampte van Afgri, dié besluit soos volg verdedig: "Ek wil graag die versekering gee dat die divisie kerngesond is en dat ons 'n baie rooskleurige toekoms tegemoetgaan indien almal, soos in die verlede, aanhou om die besigheid met toewyding te bedryf! Sterkte aan almal en geluk met die afgelope jaar se uitstekende resultate!"
Dykema sê takke wat toegemaak of gekonsolideer word sluit die volgende in: Greylingstad, Marble Hall (Besproeiing), Morgenzon, Val, Dullstroom, Hendrina, Leslie, Piet Retief, Goeiehoek, Kaalfontein, Stofberg, Clarens, Slabbert, Libertas, Verkykerskop, Utrecht, Paul-Pietersburg, Hluhluwe, Wenen, AgriGholf (Partmaster), Techniland en Agri-Marge.
"Dit is nie net 'n geval van 220 werkers wat hul werk gaan verloor nie. Die betrokke boeregemeenskappe sal benadeel word deur die sluiting van die 23 takke. Boere was oor jare heen lojale ondersteuners van die plaaslike koöperasie, maar sal nou verder moet ry om landbouverwante grondstowwe aan te koop. Afgri se plan om die takke te sluit en meer as 12% van sy arbeidsmag in die pad te steek, is 'n mosie van wantroue in Suid-Afrika en sy boere," sê Dykema.
"Solidariteit het 'n taakspan aangestel wat die Afgri-afleggings grondig sal ondersoek. Afgri kan teenkanting van Solidariteit verwag, omdat die vakbond sy lede sal beskerm. Dit gaan tans goed met die landbou. Graanpryse is uitstekend en boere het goeie reëns gehad. Daar is geen rede waarom Afgri sy lojale werkers se diens moet beëindig nie. Dit is 'n krisisbesluit wat net deur Afgri se topbestuur gesteun word, in 'n sug na groter wins om hulle vergoedingspakkette te verhoog," het Dykema bygevoeg.
12 Februarie 2008