Ingemaakte beesvleisprodukte gaan duurder en waarskynlik ook skrapser raak omdat vleis vir verwerking skaars en duur geraak het.
Onderwyl die pryse vir keur grade karkasse sedert die einde van Desember bestendig bly en nie soos in die verlede in Januarie afwaarts geneig het nie, maak dit ook die vleis wat normaalweg in die verwerkingsbedryf gebruik word, skaarser en duurder.
Mnr. Manie Booysen van Samic sê die neiging word nou verder gerugsteun deur die onderbrekings van beurtkrag wat slagplase verhoed het om hul volle vermoë te benut.
Die groot kettingswinkelgroepe sê egter dat die volume vleis wat nou deur hul winkels beweeg, is ook meer as in die Januaries van die verlede. Dit veroorsaak dat die pryse van die laer grade nou hoog opgeskiet het en nie ver agter die pryse is wat vir die keur grade betaal word nie. Twee weke gelede was die verskil maar net sowat R4,00 per kilogram.
Mnr. Louw Campher, besturende direkteur van Bull Brand, stem saam en sê nou dat Brasilië nie meer vleis kan uitvoer na SA en die EU nie, word die kleiner markte van Paraguay en Uruguay, waar SA sulke vleis gekry het, oorval deur kopers en het die vleis vir verwerking wat daar beskikbaar is, ook peperduur geword.
13 Februarie 2008