Biobrandstof gaan nie die graanbedryf se reddende ridder op 'n wit perd wees nie, sê dr. Kobus Laubscher, hoof-uitvoerende beampte van Graan SA.
"Daar gaan 'n regstelling by biobrandstof kom, 'n tempering in die vraag daarna. Dit sal onvanpas wees om ons hoop net daarop te vestig. Biobrandstof sal deel vorm van 'n versameling van oplossings."
Laubscher reken ook die verandering in die aanwending van graan van menslike gebruik na dié van dierlike gebruik en biobrandstof, sal blywend wees.
Die pryse waarteen boere dele van hul 2007-oes kon verkoop, gee hulle 'n bietjie beweegruimte, maar hy is bekommerd oor prysstygings van tot soveel as 50 % aan insetkant.
Daarom reken hy boere moet meer krities kyk na die finansiële resultate van ander besighede in die waardeketting. "Hulle kan nie ongebreidelde winste ten koste van boere en verbruikers maak nie."
13 Februarie 2008