Landbou
Grondpryse kan maar tuimel - Lulu
Deur JEAN-MARIE DE WAAL

Sy vrees nie dat die beplande toenemende onteienings grondpryse sal afbring nie, sê die Minister van Landbou en Grondsake, me. Lulu Xingwana. Trouens, sy meen dit sal "goed" wees as plaaspryse begin tuimel. "Dan kan álmal toegang tot grond hê," het sy aan verslaggewers gesê tydens 'n ministeriële persvergadering van die sosiale groepering van die Regering op Donderdag, 14 Februarie.

Sy kon egter nie vrae beantwoord oor hoe presies die staat vanjaar grondhervorming gaan versnel nie. Veral is vrae nie regstreeks beantwoord oor hoe die staat die proses wil versnel sonder 'n duidelik toename in kapasiteit en befondsing nie.

Van die metodes om grond te versnel, wat reeds in 2005 se Grondberaad genoem is, is die hersiening van die gewillige koper, gewillige verkoper-beginsel, die voorgestelde grondtaks en ook die plasing van 'n plafon op die aantal eiendomme wat besit kan word. Volgens Xingwana sal dié voorstelle vandeesmaand aan die Kabinet voorgelê word.

Die veranderings in die Onteieningswet van 1975, wat Vrydag in openbare verhore in Gauteng bespreek word, word in Maart in die Parlement voorgelê. Dit word gesien as 'n wyse om grondhervorming te bespoedig. Sy sê die Wes-Kaap gaan groot geraak word deur onteiening. Bepalings oor buitelandse grondbesit word tans ook nog opgetrek, vertel Xingwana.

Vanjaar steun die staat sterk op sy nuwe Grond- en Landbouhervormingsprogram (LARP). Dit het ten doel om 5 milkoen ha grond aan plaasbewoners teen 2009 oor te dra. Dit sluit plaaswerkers in, want uitsettings gaan steeds voort, sê sy. "En meeste van die uitsettings bly onwettig," aldus Xingwana.

14 Februarie 2008