Landbou
Vrystaters mor oor melkprys
Deur SUSAN BOTES

Die Vrystaatse Melkprodusente-organisasie is ongelukkig oor die feit dat die melkprys in dié provinsie konstant bly, terwyl die landswye gemiddeld styg.

Terwyl ander provinsies se melkprys tot ver oor die R3 merk geklim het, sukkel die meeste Vrystaatse melkprodusente om die R3 merk te haal. Dit terwyl insetkostes aanhou styg. Dié ongelukkigheid het op 'n MPO-direksievergadering by die All Africa Dairy Expo na vore gekom.

Melkboere is nou swakker daaraan toe as 'n jaar gelede met lae insetkoste en lae pryse, sê mnr. Harry Hepton, die MPO Vrystaat se ondervoorsitter. Die afgelope jaar is daar maandeliks sowat 30 melkboere wat uit die bedryf onttrek het, volgens Hepton, 'n boer in die Senekal-omgewing.

Mnr. Koos Pienaar, voorsitter van die MPO Vrystaat, het dit beaam. Hy't veral kommer uitgespreek oor nuwe toetreders tot die beddryf. "Ons wil juis hê ouens moet belê."

Pienaar meen boere se mag lê in samewerking en moet organisasies soos die MPO gebruik vir bemagtiging. "As boere nie dié kundigheid gebruik nie, gaan hulle altyd minder as die gemiddelde prys (vir hul melk) kry."

Dis vir Pienaar onverklaarbaar hoekom dié provinsie, wat reg langs die Gauteng mark geleë is, nie 'n beter melkprys kry nie.

Pienaar het egter benadruk dat 'n expo so groot soos die All Africa Dairy Expo nie gehou sal word indien daar totale wantroue in die bedryf is nie. 'n Melk bly steeds die goedkoopste proteïenbron.

14 Februarie 2008