In teenstelling met die mediaberigte waarin Eskom gelooi word oor die ontwrigting wat die lewering van beurtkrag op bedrywe in Suid-Afrika, is lede van Agri Tsitsikamma-Oos in hul skik met die diens wat hulle ontvang.
Mnr. Johannes Vermaak, voorsitter van die boerevereniging, het 'n berig in Die Burger, 13 Februarie, as "oordrewe en sensasioneel" bestempel. Daarin word genoem dat mnr. Etienne Terre'Blanche, besturende direkteur van die Melkprodusente-organisasie, die mededeling van 'n Eskom-woordvoerder rondom die beperking op toekomstige uitbreiding van kraglewering aan dié gebied as "'n baie groot terugslag indien nie 'n doodsvonnis nie", beskryf het.
Vermaak het aan Landbouweekblad gesê dit is belangrik om ook die ander kant van die saak te stel. "Sedert beurtkrag ingestel is, het ons nog bitter min onderbrekings gehad. Ons kry uitstaande diens van Eskom op plaaslike vlak en Eskom het reeds onderneem om die bestaande kraglyne teen 'n koste van sowat R11 miljoen te verbeter."
Mnr. Danie van der Westhuizen, 'n skakelbeampte van Eskom, het op 'n vergadering met boere en verteenwoordigers van selfoonmaatskappye verlede week op St. Francisbaai onder meer daarop gewys dat enige nuwe aansoek om kragpunte van meer as 100 kVa nie eers deur Eskom oorweeg sal word nie. Hy sê die situasie is so erg dat die kragvoorsiening vir nuwe punte wat reeds goedgekeur is, met tot nege maande vir aanskakeling uitgestel mag word.
Vermaak sê ofskoon dit 'n terugslag is dat boere nie hul melkerye sal kan uitbrei nie, het hulle nie 'n keuse nie en gaan hulle die beste van 'n slegte saak maak. "Eskom gaan binne die afsienbare toekoms planne beraam en weer vir ons meer krag lewer."
Uit Landbouweekblad, 22 Februarie 2008