Volgens 'n nuwe verslag van die omgewingsorganisasie Friends of the Earth International (FoEI) verhoog geneties gemodifiseerde (GM) gewasse die gebruik van plaagdoders en dra dit ook nie by tot die verligting van armoede en hongersnood nie.
Die verslag "The Rise in Pesticide Use" kom kort voor die jaarlikse bekendmaking van statistiek oor die gebruik wêreldwyd van biotegnologie in die landbou. Daarvolgens het die gebruik van glifosaat (die aktiewe bestanddeel vir RoundupReady) onder meer tussen 1994 en 2005 vyftienvoudig in Amerika toegeneem weens die aanplant van RoundupReady gewasse wat teen die onkruiddoder bestand is.
Volgens die verslag is meer as 70 % van GM-gewasse in Amerika en Argentinië en het dit nog geensins honger en armoede in Afrika of elders verlig nie. Daar word beweer dat dit ook nie tot beter opbrengste as tradisionele gewasse lei nie.
"Sal boere nou só dom wees om 'n produk jaar na jaar te plant as dit vir tien jaar agtereenvolgens vir hulle laer oeste gee," het mnr. Roberto A. Peirette, direkteur van die Argentynse vereniging vir bewaringsbewerking, gesê.
Die verslag van FoEI is ver verwyder van die waarheid, sê prof. Jocelyn Webster, uitvoerende direkteur van AfricaBio, 'n organisasies van belanghebbendes by biotegnologie in Afrika. Dramatiese opbrengsverhogings word in Suid-Afrika behaal.
Uit Landbouweekblad, 22 Februarie 2008