Van die landbou word verwag om sowat 8 % van sy eie krag te wek as deel van die staat se plan om gesamentlike kragopwekking te bevorder. Die presiese besonderhede is nog nie bekend nie, het mnr. Masiphula Mbongwa, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, aan Landbouweekblad gesê.
"Ek was uit die veld geslaan toe die Departement van Minerale en Energie my verlede week oor dié instruksies ingelig het."
Mbongwa glo 'n vergadering sal eersdaags tussen die Departement van Landbou en die Departement van Minerale en Energie gehou word om die besonderhede van die plan te bespreek. Hy sal ook dié geleentheid gebruik om die kommer te opper wat in die landbousektor bestaan oor kragonderbrekings en ekonomiese groei.
"As 'n sektor moet ons praat en bepaal hoe ons die 8% gaan haal," sê Mbongwa.
Op 'n vraag of dié inisiatief en die kragkrisis nie nou die staat se siening oor die gebruik van mielies vir bio-etanol sal verander nie, het hy gesê dit sal nie nou verander nie.
Een van die bedrywe wat die grootste potensiaal inhou, is suiker. Bagasse, 'n afvalproduk in die verwerking van suikerriet tot suiker, bied heelwat moontlikhede vir kragopwekking. Daar is aanduidings dat die staat verwag dat 59 % van die krag wat in die landbou opgewek moet word, uit dié neweproduk sal kom.
Uit Landbouweekblad, 22 Februarie 2008