Landbou
Wol-studiegroepe dui koers aan
CHARL VAN ROOYEN

Die uitdagings in die hoogs mededingende ekonomiese wêreld word ál groter en dit is dus belangrik dat boere met die beste kennis en kundigheid bemagtig moet wees om korrekte ekonomiese en bestuursbesluite te neem.

Dit is die standpunt van mnr. Hendrik Botha, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se tak in KwaZulu-Natal. In sy voorsitterverslag op die tak se drie streekvergaderings in Utrecht, Mooirivier en Cedarville, moedig hy boere aan om hul by die organisasie se studiegroepe aan te sluit, want dit is waar hulle kennis kan opdoen. Daar is nege studiegroepe in die provinsie.

Wolskaapboerdery in die provinsie is meestal 'n integrale deel van gemengde veeboerdery. Die wolskaap se dubbeldoel- en ekonomiese voordele is meer as vantevore 'n wenner. In die eerste helfte van die bemarkingseisoen het wolpryse met 20 % gestyg, terwyl skaapvleis die afgelope jaar 10 % duurder geword het. Gemeet aan hierdie syfers is wolskaapboerdery gesond.

Met die verskuiwing van die Umzimkulu-distrik van die Oos-Kaap na KwaZulu-Natal is die NWKV-takke van die twee provinsies besig om die bestuur en beplanning van hierdie kommunale gebied by die Natallers in te deel. Die gebied het 252 lede (ingedeel in vier boereverenigings) met sowat 15 200 skape.

Landbouweekblad, 22 Februarie 2008