Landbou
G'n keer aan grondhervorming
JEAN-MARIE DE WAAL

"Niks gaan die versnelling van grondhervorming keer nie," het mnr. Tozi Gwanya, waarnemende direkteur-generaal van grondsake, aan Landbouweekblad gesê.

Hy is tans in Washington, Amerika, waar hy 'n Wêreldbank-kongres oor grondhervorming bywoon.

Sy versekerings kom te midde van groeiende kommer dat die "twee magsoorde" binne die ANC enige nuwe en nodige rigtings wat grondhervorming vanjaar móés inslaan, gaan lamlê.

Gwanya gee toe dat mikpunt wat hy verlede jaar as onhaalbaar beskryf het, nie hersien is nie. Dit bly 30 % grond in swart besit teen 2014. Met die restitusieproses wat in Maart afgehandel moet wees, sal die aantal hektare wat onder die restitusieprogram oorgedra is, bygetel word. Die geldeise word egter nie as deel van die 30 % bygereken word nie.

Wat die staat se vermoë om sy mikpunt te bereik en beskikbare geld betref, sê Gwanya honderde nuwe poste is goedgekeur. Daar is 'n beter plan vir grondverkryging en die verwagte subsidies vanaf die Tesourie vir opkomende boere om grond aan te koop is op dreef.

Landbouweekblad, 22 Februarie 2008